




Gebore 24 Februarie 1990 in die platteland op Bethal, voltooi sy Laer- en Hoërskool dae op Standerton in Mpumalanga. Onderskeidelik in Laerskool Kalie de Haas waar hy in 2003 ook as onderhoofseun gekies is, en in 2008 op H/S Standerton matrikuleer.
Skoolaktiwiteite sluit breedweg in Atletiek, 5 jaar H/S Kooropleiding en Toneel.
In 2007 ontvang hy ‘n ATKV-toekenning vir beste akteur vir die rol van Willem in die verhoogstuk ‘Boem in die boks’. En weer in 2008, die keer vir sy rol in die stuk ‘Zap Zap Zapper’.
Francois behaal in 2007 die hoogste simbool (A+) vir sy eksamen by BrÜmilda van
Rensburg se TV- en dramaskool in Westdene, Johannesburg. In 2008 voltooi hy
die ‘Advanched Course’ onder haar agentskap en kry klas by mense soos Ian Roberts (akteur), Fiona Ramsey (internasionaal bekende stemafrigter), Gert van Niekerk (Egoli regisseur), Marius Roberts (televisie-aanbieder) en Libe Ferreira (casting director).
In sy matriekjaar begin hy werk as aanbieder in sy eie musiekprogram ‘Radikaal’ op Radio Pretoria. Hier voer hy onderhoude met die land se grootste kunstenaars soos Sonja Herholdt, Kurt Darren, Fredi Nest, Lianie May, Willem Botha, Jennifer Zamudio, Pieter Smith, Jak de Priester, Laurika Rauch, ens.
Daarna skryf hy in 2009 in by die Universiteit van Pretoria (Tukkies) as dramastudent.
In sy tyd by die Universiteit kry hy die geleentheid om in verskeie verhoogproduksies te speel; van ernstige stukke tot opvoedkundige produksies waarmee hulle Laer- en Hoërskole regoor Pretoria besoek het.
Tydens sy studies by Tukkies, doen hy ‘n oudisie vir die rol van Vincent de Wahl – ‘n rebelse karakter vir ‘n radiovervolgverhaal deur skrywer en regisseur Leon van Nierop op RSG.
Hy slaag die oudisie en speel in die heel eerste Afrikaanse jeugsepie vir radio wat sedert Mei 2009 elke Maandagaand om 19:40 uitgesaai word.
Nog radioteaterrolle volg in ‘Die Rooiserp’ en ‘Tussen ons gesê’ en hy kry die kans om teenoor legendes soos Elize Cawood, Paul LÜckhoff en Rina Nienaber te speel.
Aan die begin van 2010 doen Francois ‘n oudisie in Melville vir die werk as Roadshow- aanbieder vir die KOOWEE kinderprogram ‘Lappies’ wat deel uitmaak van die televisiekanaal Kyknet. Na ‘n paar uitdun rondtes word hy gekies as aanbieder vir die lewendige vertonings wat ‘n paar weke later by Artscape, Kaapstad opgevoer word. Hy werk saam met Antoinette Snyman van Liewe Heksie-faam.
Daarna fokus hy op ‘n lewenslange droom, en met die hulp van Laurika Rauch en
Wouter van de Venter, begin hy werk aan sy debuut cd. Francois skryf al die liedjies op die album self, met die uitsondering ‘As ek verlief raak’ deur Wouter. Hy werk saam met musikante soos Juan Floors Oosthuizen, Vinnie Henrico, Clinton Waring, Wouter Reynecke en Carle van Deventer.
Nog ‘n bydrae was deur Rian Swanepoel wat verantwoordelik was vir 4 van die liedjies se verwerkings. Met Wouter van de Venter as regisseur skep hulle ‘n album met ‘n nuwe klank, een wat stories vertel en wat strek oor verskeie genres. Die algehele gevoel is steeds POP, met Funk-pop, Country Balades en Rock-aanslag variasies. ‘Dromerlaan’ is die titelsnit en maak deel uit van 15 ander oorspronklike liedjies.
Na 6 maande van produksie hou hy sy eerste amptelike vertoning einde Oktober by die Pierneefteater in Pretoria. Met gaste soos Laurika Rauch, Tinus Esterhuizen (RSG musiekhoof) aka Martin Lane asook nog ‘n paar radiopersoonlikhede en musikante. Hier deel hy ‘n verhoog saam Wouter van de Venter en die hoogtepunt van die aand was hul akoestiese duet ‘As ek verlief raak’.
In dieselfde jaar vorm Francois deel van ‘n verhoogproduksie, verskyn hy as byspeler in 2 plaaslike vervaardigde films ‘Susanna van Biljon’ en ‘Eternity’. Hy doen ook ervaring op in dubbing/oorklanking en waag sy hand aan MC.
Einde 2010 skiet hy sy eerste musiekvideo vir die liedjie ‘Rondomtalie’ wat begin 2011 te sien sal wees. Die Country-sangeres Cheree neem ook hierdie liedjie op in 2009 vir haar album ‘In my drome’. Haar unieke stem en Country-blues weergawe van die liedjie dra by tot haar SAMA nominasie en Vonktoekenning vir beste Country album.
Francois het ‘n lewendige belangstelling in die Afrikaanse musiek- en
vermaaklikheidsbedryf in geheel. Hy leef hom uit deur die liedjies wat hy skryf en
sing en deur die rolle wat hy vertolk. Hy droom nog van ‘n groot rol op televisie, en meer radiowerk, nog cd’s en dat sy musiek by talle mense sal uitkom. Maar die heel belangrikste ding in sy lewe is familie.
Bespreek Francois van Rensburg by: bookings@bluedivision.co.za of 084 606 1353