




“Sê my, vertel vir my: Geniet jy die taal soos ek en hy? En is jou are dik genoeg vir die boerebloed wat daardeur ploeg?” is die liriek wat eerste lêplek kom kry. Dan: “Hierdie is my huis, hierdie is my siel. Hierdie is my lewe, hier wil ek bly.”
Woorde van ver wat naby ’n mens weerklink. Al tien snitte op Brandweer se gelyknamige debuutalbum is oorspronklike Afrikaanse werk uit die pen van Werner Burger en Paul Koen. Daar is ’n ouwêreldse onskuld in die woorde en mondfluitjie-melancholie in die wysies, en die werk staan soos tien verdiepings op vier sterk pilare.
Dié pilare behoort natuurlik aan die vier jong manne van Brandweer: Werner Burger (stem en akoestiese kitaar), Paul Koen (stem, elektriese kitaar en mondfluitjie), Francois van Rooyen (tromme) en Francois Gouws (baskitaar).
Daar is niks rekenaarmatig of sinteties aan die album nie – eerder rou akoestiese eerlikheid. Dit is ook nie soos so baie vrystellings die resultaat van te veel laat aande, kitaar in die hand, op ’n vierpootstoel in Hatfield nie.
Nee, die bestanddele van dié resep is keurig geweeg, gemeng en gebak deur Dawie de Villiers van Navi Redd-faam wat Redd Records van die “wankelpaaie, kronkelpaaie” en “donkiekarverkeer” neem na ’n plek waar “my hartklop snel na die vinnige baan”. “Dorperskaap en bees kleur die prentjie vinnig in. Van die bloedrooi hakbosrante wat smag na ’n bietjie reën.”
Klim jy saam met Brandweer met die leer die tien verdiepings uit, sien jy Stacey, Hartedief en Queen van my hart deur die vensters saamluister; kry jy ’n hartskykie weg van Skinny jeans, celebs en Peroni-bier; is dit ’n Reis na die vreemde én ’n Adventure cruise. En word Jou taal opnuut My huis. Tot die boere ons kom haal.
Die groep doen allermins wat sy naam sê. Pleks van brande blus, laat die album jou juis met ’n brand(ende gevoel) in die hart. Weer en weer. Maar een sonder seer.
Dís ’n (musiek)vuur wat gestook moet word! Wat jou met genoeg Happy kiekies vir ’n lang tyd laat.
“’n Goeie song maak (immers) ’n wond gesond!”. Brandweer laat jou saam met die sonbesies jou liefde aan die land (en die taal) verklaar.
Bespreek Brandweer by : bookings@bluedivision.co.za of 084 606 1353