




Anton Botha is in 2008 genomineer vir ‘n SAMA toekenning vir die beste Afrikaanse Pop Album. In 2009 is hy trots om ‘n splinternuwe album vry te stel : Anton Botha sings Smokie’s Greatest Hits.
Anton is ‘n veelsydige kunstenaar wat Suid-Afrika omgekeer het met treffers soos: “Jakaranda”, “Asseblief asseblief” en “Superhero”. Hy is ook bekend vir sy parmantige Afrikaanse keurspelle, waar hy Rock&Roll legendes kombineer met ou afrikaanse gunstelinge. Net toe almal wonder, wat is volgende, verras Anton met ‘n fenominale “tribute” album. Almal ken die immergroen klanke van Smokie, maar dit verg iets besonders om waarlik hulde te kan bring aan hierdie uiters suksesvolle groep.
Toere saam met die gewilde Robbie Wessels en Wynand Strydom het Anton aan die land bekendgestel. Daarna het die topverkoper DVD’s van Thys die Bosveldklong gevolg en Anton se verskyning in die DVD’s het hom as bekende in ons land se musiekkringe gevestig.
Anton het alreeds vanaf 2006 by so te sê al die skoue en feeste in ons land gaan kuier. Anton maak gereeld sy verskyning by die Aardklop Nasionale Kunstefees, die Rittelfees en die Klein Karoo Nasionale kunstefees. Hy het ook in 2008 vir die eerste keer aan die Laeveld se InniBos kunstefees deelgeneem. Tydens KKNK 2007 was Anton uitgenooi om deel te neem aan die Kurt en Vriende vertoning; aangebied deur Kurt Darren.
Resensies van Anton se werke is dan ook in menigte publikasies geplaas. Die publikasies sluit in: Vrouekeur, Rapport, Rapport Tydskrif, Krayzee, Eastern en nog vele meer.
“Daar is so baie nuwe genres in die plaaslike musiekmark en elke nou en dan is daar ‘n nuwe kunstenaar soos Anton Botha wat my werklik met sy musiek beïndruk.” (Kurt Darren, Rapport Tydskrif, Bl 20, 26 November 2006)
Anton het selfs al ‘n draai op DKNT gemaak en sy musiekvideo word gereeld op MK en KykNet se gewilde program Jukebox uitgesaai. Sy musiek kan gehoor word op talle radiostasies en het menigte top tien plekke behaal.
Beide Anton se albums, Jakaranda en die Smokie’s Greatest Hits, is beskikbaar in alle goeie musiekwinkels.
Wie is Anton……
Gebore in Bethlehem, het hy as plaasseun in die Oos-Vrystaat groot geword. Op die tere ouderdom van 5 jaar bemeester hy die kitaar, tot groot genot van almal wat wil luister. In sy laerskool dae trek die gesin na Centurion en neem hy deel aan alle musiek kompetisies beskikbaar. Toe alreeds, het hy saam met die groot name in ons bedryf; soos Coenie de Villiers, Anneli van Rooyen, en Randall Wicombe opgetree. In 2003 is Anton aangewys as een van 10 ATKV Crescendo finaliste. Tydens die 2008 Suid Afrikaanse Musiek Toekennings (SAMA) is Anton aangewys as ‘n kandidaat vir die beste Afrikaanse Pop Album, vir sy album Jakaranda. Tydens Fantasia Music Distribution se jaarlikse spog-oggend is Anton in 2008 beloon met ‘n goue plaat vir sy bydrae tot die albums “Country Kersfees” en “Country Konings 1” wat albei onderskeidelik meer as 20 000 eenhede verkoop het.
As ‘n baie gewilde liedjie skrywer, is sy musiek al deur verskeie van ons bekende musieksterre opgeneem. Dink aan Adijy Adijo deur Juanita du Plessis (Bly by my), die titelsnit en verskeie ander snitte op Karen Ferreira se album getiteld “Altyd joune”. Asook die albums van Thys die Bosveldklong (Vet pret), Wynand Strydom (Pamperlang) en Karlien Husselman (Wees vir My). Izak Davel vyf van Anton se liedjies opgeneem op sy treffer debut album “Ken jy My?”, en die treffer “Permanente Pen” vanaf Izak se tweede album “Verlore Harte” kom uit Anton se pen. Hy is dan ook verantwoordelik vir die meeste van die skryfwerk op sy eie albums. Anton word ook nader getrek aan die produksie kant van sake en is betrokke by die kitaar werk vir menigte albums.
Met sy oorspronklike werke vol ritme en harmonie is hierdie beslis ‘n jong man wat oud en jonk se voete laat wip en heupe laat swaai, op die maat van sy op-en-wakker musiek. Anton is ook ‘n groot aanhanger van ou legendes soos Dire Straits en Creedence Clearwater Revival en werk dit graag ook in sy repertoire in. Anton kan bespreek word as solo kunstenaar (gebruik van “Backtracks”) of saam met sy orkes.
Vinnige Feite: Anton Botha
Geboorte Datum :: 11 Junie 1983
Geboorte Plek :: Bethlehem
Gunsteling Tydsverdryf :: Motorfiets ry
Gunsteling Musiek :: Dire Straits en CCR
Gunsteling Kos :: Kookkos (Ouma s’n)
Waar in die wêreld sal jy nog graag wou gaan: : Ek wil baie graag die Barrier Reef in Australiё gaan verken.
Interessantste plek waar jy al ooit was: : Malawi. Ek was bevoorreg genoeg om ‘n vertoning in Malawi te gaan doen. Die Malawi Meer is asemrowend, en die mense nog meer!
Waar gaan jy om af te skakel: : Ek is baie lief vir die plaaslewe. Ek gaan
ontspan graag op my skoonpa se plaas in die Oos-Vrystaat. Daar is niks soos die vars lug en berge om vir ‘n mens inspirasie te gee nie.
Wat mense nie van my weet nie: : My aanlegtoetse op skool het voorgestel dat ek ‘n wildbewaarder moes word.
: Ek is mal oor kitare en werk daaraan om ‘n hele versameling rare en waardevolle kitare bymekaar te maak.
Die Musiekbedryf:
Hoe oud was jy toe jy begin kitaarspeel: : My pa het my geleer kitaarspeel toe ek 5 jaar oud was. Ek is baie bevoorreg dat beide my ma en pa se familie musikaal is. My oupa het destyds die land rondgetoer met sy boeremusiek orkes.
Waar was jou heel eerste vertoning: : Burger Ranch in Centurion. Ek het my
ma-hulle verbied om hande te klap!
Het jy aan enige kompetisies deelgeneem: : Ek is in 2003 aangewys as een van 10 ATKV Crescendo Finaliste en in 2008 is ek genomineer vir ‘n SAMA Toekenning vir beste Afrikaanse Pop album.
Watter Albums is al vrygestel: : In 2006 het ons die debut album Hier by My vrygestel. Ons het in 2007 ‘n heruitreiking van die album gedoen, Jakaranda, wat tans nog in die winkels beskikbaar is. Onlangs is my nuwe album, Anton Botha sings Smokie’s Greatest Hits, vrygestel.
Jy is ook dan liedjieskrywer: : Ek skryf byna al my liedjies self. Ek is ook
gelukkig om ander sangers se geloof in my te hê soos Izak Davel en PJ Cruz vir wie ek ook al liedjies geskryf het. Ek het al geskryf vir Juanita du Plessis, Karen Ferreira, Karlien Husselman, Thys die Bosveldklong en Wynand Strydom.
Bespreek Anton Botha by : bookings@bluedivision.co.za of 084 606 1353