Bianca Pienaar

Back to Artists page


Daar was ’n tyd – net meer as ’n dekade of wat gelede – wat die Afrikaanse musiektoneel oorheers is deur vroue van formaat. Die manne wat die musiekkolskoot kon tref, was in die minderheid. Die afgelope dekade is egter oorheers deur manlike sterre wat blitsvinnig die verhoog betree en begin oorheers het.

Is die skaal besig om weer in ewewig te swaai? Beslis. En Bianca Pienaar se jongste vrystelling, Net vir nou, is die onmisbare gewig om dié musiekskaal weer sy regmatige plek te laat inneem. Elf snitte wat die antwoord is op luisteraars se wekroep op ’n alternatief op die handjievol (vroue)klanke wat ons klankgolwe tans kenmerk.

Bianca is ’n boorling van die Kaap wat Pretoria reeds die afgelope 24 jaar huis noem. Sy is in 2009 vir haar eerste album, Obsessie, vir ’n Vonk Afrikaanse Musiektoekenning genomineer in die kategorie: beste kontemporêre vroulike album.

Die klanke op Net vir nou is egter ver verwyder van haar eerste album. Meer pop en minder rock. Daar is steeds die lekkerluisterelement, maar daar is ook ’n volwassewording wat diepgang aan die melodieë verleen. Gesels jy met dié 27-jarige (wat nie net met ’n graad in grafiese ontwerp spog nie, maar ook haar eie musiekskool, Bianca’s School of Music, het) is dit gou duidelik wat die wese van haar woorde is. Bianca is net meer as twee jaar gelede met servikskanker gediagnoseer. “Boonop het ek ’n wonderlike man (Wessel de Bruyn) ontmoet wat ’n virus opgedoen en byna dood is. Dit het nie net my lewe nie, maar ook my geloofspad vir ewig verander.”

Die snit Jy’s die een, wat Bianca in 2007 vir sy verjaardag geskryf het, word juis op die album aan Wessel opgedra. “Met my siekte en die virus wat Wessel byna in ’n koma laat beland het, was ek aanvanklik kwaad. Ek het gedink: Noudat ek eindelik iemand gevind het wat my voltooi, gaan ek hom verloor.”

Ná ’n operasie en behandeling is die kanker in remissie en Wessel het ook wonderbaarlik genees. “Net vir nou vergestalt die liefde, maar vier ook die lewe. Dinge wat ek beleef het; wat ek met ander wil deel. Want ek het besef dit gaan nie oor die eie ek nie, maar oor ander.” Daarom het Bianca verlede jaar agt maande van haar tyd gewy om kinders by skole van mishandeling bewus te maak. “Ek het gevoel al kan ek self dalk nie eendag kinders hê nie, kan ek steeds ’n daadwerklike verskil in die lewe van kinders maak.”

Dié borrelende blondekop sit nie stil nie en Net vir nou sal jou ook allermins stil in jou stoel laat. Snitte soos Net vir nou, Droomverlore ure, Ek weet, Ek hou van asook die Afrikaanse verwerking van die Blondie-treffer Call Me bewys dat Bianca Pienaar gewis nie Net vir nou is nie, maar hier is om te Bly (soos die vars verwerking van die 1994-Karin Hougaard treffer uit die pen van Steve Hofmeyr).

Want sy het geleer wat dit beteken om nog ’n kans te kry. ’n Stem wat saakmaak, selfs Sonder woorde. Vrou van formaat.

Bespreek Bianca Pienaar by : bookings@bluedivision.co.za of 084 606 1353